Ponto Grille and Carvery Reflexions Professional Hair Oyster World Wolwedans Game Farm Beach House Restaurant Skorpios Security Delfinos.Passion for food-Passion for life Property Pointer Top Up Service Station

 

MosselbayonTheline | First With The News

Wat maak ‘n gesoute senior Wesrandse moord-en-roof speurder op Groot-Brakrivier – en dit nogal met ‘n klomp donkies, honde, varke, beeste, perde, skape en bokke ?

Dis vir Chris Steyn om te weet . . . en vir jou om uit te vind!

Dié voormalige Krugerdorpse speurder-offisier van die SAPD se destydse befaamde Wesrand Moord- en Roofafdeling het sowat 2 jaar gelede finaal die ou Transvaalse goudstof van sy skoene afgeskud en met vroulief Susan na die groen en lowerryke Suid-Kaap verhuis.

Santiaan18 2Dit was ná ‘n vakansie in Mosselbaai dat hulle besluit het: genoeg is genoeg! Die korporatiewe wêreld met al sy geld in Johannesburg kan nie opweeg teen die weelde van ‘n rustige bestaan langs die Suid-Kaapse kus nie.

Chris en Susan het albei uit die korporatiewe wêreld hier beland. Chris het ná sy aftrede uit die SAPD in 2000 by die teen-misdaadafdeling van Standard Chartered Bank in Sandton aangesluit waar hy witboordjie-misdaad pleks van moord en roof help bekamp het. Susan het as rekenmeester by verskillende groot mynmaatskappye gewerk.

Nou ontdek en leef hulle ál hul verborge talente waarvoor daar nooit tyd was nie, uit op ‘n kleinhoewe van sowat 9,5 hektaar tussen Groot-Brakrivier en George. Santiaan Guest Farm is hul “droom in wording” om ‘n unieke familie-kuierplek met ‘n rustige, plattelandse atmosfeer in die hartjie van die Tuinroete te vestig. Chris het die afgelope 2 jaar as vernuftige bouer, boer en skrynwerker ontpop, terwyl Susan volle uiting aan haar onderdrukte kunssinnigheid kan gee. Pleks van met syfers, misdaad en Fica-bedrog te sukkel, bou Chris nou huisies en wooneenhede en Susan se olieverf-skilderye verfraai die interior van hul alles-in-een restaurant en kuierplek.

Santiaan 10 768x461 3

“Toe ons die stuk grond gekoop het, was ons nog nie seker presies wat ons wou doen nie. Ons was net keelvol vir Johannesburg se stres en gejaag na geld. Ons het verskeie afsprake met eiendomsagente in die omgewing gemaak en toe ry ek eendag hier verby en sien die Te Koop-bordjie . . .

“Hier was net ‘n groot skuur en ‘n huis – die vorige eienaar het trokke reggemaak. Ek het die skuur omskep in ‘n restaurant en ontspanningsarea met speelplek vir kinders en agt selfsorg-eenhede gebou wat ons solank aan mense verhuur wat ook graag in die natuur wil woon. Ons woon in die een deel van die “ou” skuur. Mettertyd wil ons ook die grond oorkant die pad in ‘n lekker kampterrein met ‘n paar huisies rondom die dam omskep . . . ”

san 4

Dis sagkens gestel: wat die egpaar in twee jaar vermag het, is indrukwekkend. Susan se Ma het ook afgetrek om te help en ‘n blomryke kwekerytjie pryk reeds neffens die lapa met sy groot braai-area waar Chris ook ‘n roker wil bou om lekker vleis en vis te rook. Die netjiese selfsorg-wooneenhede – meesal ruim kamers met ‘n badkamer en ‘n gesamentlike kombuis – is ideaal vir mense wat net ‘n basiese “nessie” in die natuur soek om saans ná werk en naweke luilekker te ontspan. Dit word tans op ‘n langtermyn-basis verhuur, maar die idee is om dit later as oornagverblyf vir gaste beskikbaar te stel as Santiaan Guest Farm heeltemal voltooi is.

Santiaan16 5

Ek vang Chris onverhoeds op ‘n weeksoggend. Susan is George toe om kruideniersware te koop en Chris skarrel rond tussen telefoonoproepe, afleweringsvoertuie en mense wat blyplek soek. Drie van die vier honde wat gaste stertswaaiend kom groet en luilekker in die son rondlê, is DBV-rescues – nes die twee perde, vier donkies, varke en bokkies wat eenkant op die kleinhoewe ‘n koningsbestaan voer. Die oudste van die drie labradors, Jock, het agtergebly nadat die vorige eienaar vort is en hou ‘n wakende oog oor Pam, Sam en die baster-skaaphond, Niki.

Santiaan6 768x461 6

Santiaan17 768x461 7
“Die enigste hartseer is die verlange na ons kinders en kleinkinders wat ons in Johannesburg agtergelaat het. Ons is ‘n baie hegte familie en dis emosioneel maar ‘n moeilike storie om nou so ver van hulle te wees en nie die sewe kleinkinders te kan sien opgroei nie,” sê Chris. Hopelik bied Santiaan mettertyd juis die ideale “plaasvakansie” vir die Gautengse kleinkinders sodat hulle ook gereeld die natuurlewe kan beleef en geniet.

Santiaan11 8

“Ek het nogal ‘n groot droom. Hier is ‘n groot driewiel-fiets waarmee kinders rondgery kan word en ek is besig om ‘n perdekar te bou . . . en die donkies mak te maak vir donkieritte. Hier wil ek vir golfspelers ‘n mini-baantjie bou sodat hulle sethoue kan oefen wyl die kinders buite met die diere speel”, beduie hy.

Santiaan14 9

“Ek het ook ‘n dranklisensie sodat ons lekker koue bier en goeie wyn kan bedien . . . maar dit gaan nie ‘n kroeg word nie. Die restaurant moet ‘n unieke spyskaart hê wat ‘n R50-pot insluit – dit beteken dat jy ‘n lekker bord kos met baie vleis teen R50 kan kry en ‘n goeie bottel wyn ook net R50 kos. Die idee is om Santiaan te ontwikkel tot ‘n self-onderhoudende oord met ‘n unieke karakter. ‘n Familie-kuierplek buite die stadsgewoel waar jy gesellig kan verkeer met bekostigbare kos in ‘n lekker atmosfeer en waar kinders ‘n gevoel van die plaaslewe kan kry ...  ”

san2 10

‘n Ou perdeskoen teen die muur kom glo uit ‘n konsentrasiekamp van 1918 in Middelburg in die ou Transvaal, en orals pryk interessante oudhede en kunswerke. “Dis my skoonma Susan wat die geskiedenis van dié oudhede ken. My skoonsuster Elsa wat hier naby in Reebok woon, is ook kunstig en skilder saam met Susan. Ons kan selfs later ‘n kunsgalery hier skep waar kunstenaars klasse in pottebakkery, ens. kan aanbied . . . “

Santiaan4 11

Santiaan1 12

san3 13

Stukkie vir stukkie bou hulle aan hul droom hier langs die asemrowende ou kuspad tussen George en Mosselbaai . . . en al is dit harde werk om alles self te doen, is dit duidelik dat dié oud-speurder en sy syfervrou hul sommetjies goed gedoen het toe hulle Jozi se misdaad en klatergoud verruil het vir vrede en sielerus in dié stukkie paradys waar moord-walvisse en roofvoëls welkome “misdadigers” is.

Great Brak3 768x576 14

Related Articles:

Add comment

No abuse, no discrimination, no foul language


Security code
Refresh