Oyster World Delfinos.Passion for food-Passion for life Wolwedans Game Farm Skorpios Security Reflexions Professional Hair Top Up Service Station Ponto Grille and Carvery Property Pointer Beach House Restaurant

 

MosselbayonTheline | First With The News

♫ Daar's 'n trein tjoeketjoek-tjoeketjoek, daar's 'n trein tjoeketjoek-tjoeketjoek - dis die trein op die Mosselbaai-spoorlyn ♫

train6

Daar is iets magies aan die rou skoonheid van 'n ou stoomlokomotief wat nostalgiese emosies in almal wakker maak . . .'n soort romantiese heimweë en 'n hunkering na vreemde plekke en vervloë tye van eenvoud en krag toe masjiene nog gebou was om te hou - van yster en staal . . . onbreekbaar, veilig, standvastig en betroubaar.

Dis 'n emosie wat skrywers en digters aanspoor tot talryke liedjies oor dié statige ou kragreuse op die spore na êrens . . . of nêrens. 
Sedert Frans en Sannie Briel in die 1950's die treurige rock-liedjie Trein na Pretoria die lig laat sien het, het talle ander Afrikaanse liedjies met die trein-tema gevolg, waarvan Sonja Herholdt se 1988 "7 single" Kimberley se Trein, Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock se 1991-treffer Tussen Stasies en Sonja Herholdt se treffer Trein na Matjiesfontein (1992) seker dié bekendste is, gevolg deur die rocklegende Piet Botha wat onlangs oorlede is, se jongste album Die Middernagtrein wat verlede jaar uitgereik is.

trein Jessica foto Muriel Eddy

Die stoomlokomotief Jessica is een van drie van dié ikoniese ysterperde wat aan die Ceres Rail Company van Derick du Toit behoort en gereeld deur Mosselbaai se span hersien  word nadat hulle dit oorspronklik gerestoureer het. Foto: Muriel Eddy.

Die era waarna stoomtrein-liefhebbers hunker, is miskien vir ewig verby, maar dié ou kanniedood-ysterperde herleef toenemend in die Wes-Kaap - danksy die kundigheid van 'n Mosselbaaise span kenners wat sedert 2015 dié ou staatmakers wat iewers in vergetelheid op 'n stasie stof vergaar het, een vir een tot hul volle glorie herstel en restoureer sodat hulle weer die spoorlyne opnuut laat tril.

Robert (Bobby) Rudman en sy span van nege helpers by die Voorbaai Lokomotief-depot het sedert 2015 al ses van dié vergete stoomlokomotiewe laat herleef. As jy gedink het liedjieskrywers is passievol oor treine, moet jy 'n klomp ou treindrywers en vakkundiges uit die SA Spoorweë se dae bymekaar kry . . .   

train14

Vrydag is die 19B-klas Bailey-stoomlokomotief - een van drie stoomlokomotiewe van die Ceres Rail Company wat aan Derick du Toit behoort - weer op 'n toetsrit vanaf Voorbaai na Groot-Brakrivier geneem nadat Bobby en sy span haar onder hande gehad het. En het die toeskouers en saamryers dié trippie langs Mosselbaai se ongerepte kuslyn nou geniet . . .

train3

Die uitsig uit 'n trein vanaf 'n spoorlyn waar geen voet, fiets of voertuig kan kom nie, is onbeskryflik en jy sien dinge wat jy andersins nooit van sou geweet het nie . . .

Video: Ikoniese stoomlokomotiewe uit vergange dae herleef en word tot hul volle grasie en glorie in Mosselbaai gerestoureer.

 Onthou jy nog? Kuslyn tussen Groot-Brakrivier en Voorbaai . . .  Kyk hoe haastig is dié Bailey 19B-klas-spogtrein nou huis toe . . .  ! 

train1

Bobby, 'n afgetrede spoorwegman wat sy stoomtrein-tande in 1965 as vakleerling in die destydse Sydnam in Port-Elizabeth geslyp het voordat hy jare later in 1994 as produksiebestuurder van stoomlokomotiewe by Voorbaai begin het, se aftrede in 2010 toe die depot toegemaak het, was van korte duur.

Bobby Rudman


In 2015 het hy onverwags 'n oproep van Transnet gekry: hier is BAIE ou stoomlokomotiewe in die land wat opgebou, gerestoureer en weer aan die fluitgang gekry moet word . . . 
Dit was nie 'n moeilike besluit nie en sedertdien is Bobby as projekbestuurder en sy kundige span kliphard besig om dié pragtige spoor-strydrosse een vir een weer te laat sing op die spore . . . 

Mossel Bay's coastline from an iconic steam locomotive's view . . . 

* Die drie stoomlokomotiewe van die Ceres Rail Company - Jessica, Bailey en Dominique - is sedertdien 'n bekende gesig in Voorbaai, want alle stoomlokomotiewe se stoomketel-sertifikate moet elke drie jaar hernu word. 
Algemene herstelwerk word ook in dié tyd gedoen om seker te maak hulle stoom fluit-fluit terug Ceres toe waar hulle die kern van 'n florerende toerismebedryf is om toeriste op stoomtrein-besigtigingstoere in die Wes-Kaap te neem.

Fluit-fluit, ons storie is uit . . . maar die herlewing van dié stoomtreine in Suid-Afrika begin nou eers . . .

♫So ry die trein, so ry die trein♫

* Die Ceres-spoorlyn wat in die vroeë 1990's gebou is, is in 2012 weer oopgestel danksy 'n visie wat Derick du Toit sedert 2002 gekoester het en met behulp van Simon Beckett en Transnet uiteindelik kon bewaarheid. http://www.ceresrail.co.za/

 * 'n Soortgelyke visie om die Outeniqua-spoorlyn (Outeniqua Choo-Tjoe) tussen Mosselbaai en Knysna wat al langer as 'n dekade lank gesluit is weens destyds se oorstromings, weer te herstel, is tans in die pyplyn . . . 'n Mens kan net hoop? 

Nog foto's op ons Facebook-blad: https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2417981538433099?

 

ONTHOU JY NOG? 

https://www.youtube.com/watch?v=pSGvnoVONp0 (Trein na Pretoria)

https://www.youtube.com/watch?v=fJtEjWBMZNg (Kimberley se Trein)
https://www.youtube.com/watch?v=DcAVbLplZt8 (Trein na Matjiesfontein). 
https://www.youtube.com/watch… (Middernagtrein)

 

 

Related Articles:

Comments  

0 #1 ehebenuopesu 2021-07-04 17:49
Eceyisaj: http://slkjfdf.net/ Icefbesi fsj.sezo.mosselbayontheline.co.za.bxo.dr http://slkjfdf.net/
Quote