Skorpios Security Ponto Grille and Carvery Property Pointer Oyster World Beach House Restaurant Delfinos.Passion for food-Passion for life Reflexions Professional Hair Top Up Service Station Wolwedans Game Farm

 

MosselbayonTheline | First With The News

Terwyl daar vanoggend op Heroldsbaai met swaar harte afskeid geneem word van Heidi Scheepers (35) en haar seuntjie, Hugo (2), duur die soektog na Cozette (6) steeds voort en sal haar familie nooit rus voor sy ook opgespoor is nie.

Die begrafnis/gedenkdiens vir Heidi, Hugo en Cozette vind vanoggend om 10:00 by die Eden Kerk in George plaas.

Heidi foto van kids

Foto en voorblad: Die Scheepers-gesinstragedie het die publiek aangegryp en mense aangespoor om die mooiste foto-collages ter nagedagtenis aan Heidi, Cozette en Hugo te maak wat op 'n spesiale Facebook-blad gedeel is. 

Die hartverskeurende gesinstragedie waarin Heidi en die kinders op Dinsdagaand 22 Oktober in raaiselagtige omstandighede omgekom het nadat hul voertuig op die serwituut-grondpad op pad na die Voëlklip-uitkykpunt op Heroldsbaai oor 'n afgrond gestort en in die see beland het, het dié skilderagtige kusdorpie geruk en ook landwyd mense aangegryp. Heidi se man, Etienne (36), het gesê hoewel die amptelike polisie-soektog na Cozette afgeskaal is, sal die familie nooit ophou soek of berusting vind voor sy ook gevind is nie.

Sunel Vermaak is een van die mense wat só aangegryp is deur die lot van dié eens gelukkige gesinnetjie dat sy spesiaal dié hartroerende video saamgestel en met ons gedeel het. "Jammer vir foutjies in die video - ek het so gehuil toe ek gisteraand die foto's saamstel . . . ", het sy gesê.

Die geregtelike nadoodse polisie-ondersoek duur voort en verskeie forensiese uitslae is nog uitstaande.

"Sometimes you will never know the value of a moment . . . Until it becomes a memory . . . "

 

 

 

 

Familie en vriende het vanoggend roerend afskeid geneem van Heidi Scheepers (35) en haar twee kinders, Cozette (6) en Hugo (2) tydens 'n emosionele gedenkdiens by die Eden Place-kerk in George. Aangrypende boodskappe en huldeblyke is aan dié jong Ma en kindertjies opgedra wat so vroeg weggeruk is. 

 

Heidi Scheepers en kids Begrafnis

 

Heidi Begrafnisdiens foto

Lees ook ons vorige berigte hier:  

4 November 2019

Heidi Scheepers

Die see-soektog na Cozette Scheepers (6), die oorblywende lid van die Scheepers-gesin van Heroldsbaai wat nog nie gevind is sedert voorverlede Dinsdag se gesinstragedie by Voëlklip nie, is intussen afgeskaal.

Heidi Scheepers dogtertjie

Polisiewoordvoerder kapt. Malcolm Pojie het gesê weens beperkte mannekrag en gebrek aan verdere leidrade sal die see-soektog afgeskaal word, maar sporadiese patrollies sal steeds langs die kuslyn uitgevoer word. 'n Beroep word op die gemeenskap en hengelaars gedoen om enige drywende of vreemde voorwerpe in die see dadelik by die polisie aan te meld.

Voëlklip Nandi3

Nandi Goldschagg, 'n fotograaf van die omgewing, het dié simboliese foto van die soektog na Cozette Scheepers (6) en die publiek se soektog na antwoorde by die Voëlklip-uitkykpunt by Heroldsbaai geneem.

Cozette, haar ma, Heidi (35) en boetie Hugo (2) het op 22 Oktober vermis geraak ná wat veronderstel was om 'n vinnige gesinsuitstappie op die strand by Heroldsbaai te wees. Hul voertuig en Heidi en Hugo se liggame is intussen in die omgewing van Voëlklip uit die see gehaal, maar Cozette is nog nie gekry nie.

Polisieduikers, sowel as lede van die NSRI en noodreddingspanne is steeds op bystanddiens vir enige gebeure, het Pojie gesê.

Voëlklip Nandi4

Sitbankies by die Voëlklip-uitkykpunt bied 'n panoramiese uitsig oor Heroldsbaai se ongerepte kuslyn. Foto: Nandi Goldschagg van Simple Life Photography. 

Geen moorddossier geopen

Pojie het wydverspreide gerugte oor 'n moordondersoek ontken en gesê geen misdaad word in dié stadium van die ondersoek vermoed nie. "Alle moontlikhede word ondersoek, maar in dié stadium is net 'n geregtelike doodsondersoek geopen", het hy gesê.

Mense word ook versoek om nie onbevestigde gerugte op media- en sosialemediaplatforms te versprei nie, maar eerder die ondersoekbeamptes te skakel as hulle oor feitelike inligting beskik wat met die ondersoek kan help.

Mense met vertroulike inligting is versoek om kol. Adelle van der Poll te skakel by 082 522 1994. 

 

 

Intussen word 'n gedenkdiens vir Heidi, Cozette en Hugo eerskomende Saterdag om 10:00 by die Eden Place-kerk gehou.

Min dinge ontlok soveel emosionele reaksie as die onnatuurlike dood van jong kindertjies - veral as 'n oënskynlik gelukkige gesinnetjie in 'n skilderagtige kusdorpie soos Heroldsbaai op een na almal gelyk in tragiese omstandighede uitgewis word.

Die publieke druk om nou ná al die jare die serwituut-toegangspad van sowat 3km na die Voëlklip-uitkykpunt te sluit of veiligheidsrelings op strategiese plekke aan te bring ná Dinsdagaand se gesinstragedie waarin Heidi Scheepers (35) en haar twee kinders, Cozette (6) en Hugo (2) by 'n afgrond afgestort het, ontlok ook sterk teenkanting van inwoners wat dié omgewing goed ken en liefhet.

Voëlklip Nandi

Voëlklip met sy panoramiese uitsig oor Heroldsbaai en die kuslyn, met 'n groot houtkruis as simbool van liefde op die voorgrond. Dié parkeerterrein by Voëlklip is egter nie die plek waar die Scheepers-gesin se voertuig by 'n afgrond afgestort het nie. Die tragedie het op die serwituut-pad op pad na die Voëlklip-uitkykpunt gebeur. Foto: Nandi Goldschagg.   

'n Leser wat gereeld Voëlklip op haar eie besoek om die ongelooflike uitsig en natuurskoon te bewonder, het spesiaal 'n video van die toegangspad geneem om verwarring uit te skakel en te wys hoe mooi die omgewing werklik daar is. Die presiese plek waar die Scheepers se Volkswagen Caravelle-kombi oor die afgrond is en die swart kruis getref het wat vroeër daar opgerig is nadat drie jong mans daar afgestort het, is sowat 6 minute in die video. In vorige mediaberigte is verkeerdelik genoem dat die Scheepers se kombi by die parkeerarea van die Voëlklip-uitkykpunt afgestort het. Dit is egter nog 'n hele entjie verder.

Een inwoner het geskryf:

"IS VOËLKLIP NA 'N PAAR STERTES DAAR, WERKLIK SO GEVAARLIK?
Ek merk in die oningeligte media dat Voëlklip by Heroldsbaai nou skielik so onveilig is dat dit met 'n teerpad en/of staal-relings beveilig of straks gesluit moet word. 

Voëlklip is 'n pragtige, natuurlike plek met 'n asemrowende uitsig oor Heroldsbaai aan die oostekant en die hele kuslyn tot by Mosselbaai-punt aan die westekant. Walvisse in die wintermaande en skole dolfyne van selfs honderde kan regdeur die jaar daar besigtig word. Almal wat die pragtige plek ken en hulself al daar aan die natuur verwonder het, weet jy kan nie daar roekeloos of met jou dronk-lyf gaan rondjaag nie. Die plek is nie onveilig vir enige redelike mense nie.

Jy maak nie daar 'n ongeluk, behalwe opsetlik of nalatig nie. So moet dit asseblief nie gaan ontsier met 'n klomp onnodige staal-relings nie. Sit eerder net 'n paar spoed- en ander waarskuwingstekens op waar absoluut noodsaaklik. Meeste mense wat daar oor die jare dood is, is in elk geval vissermanne wat onder van die rotse af geslaan is en daar in die kolkende branders verdrink het.

Wat wel hartseer is, is dat sekere onkonsidirerende mense, (veral mense wat nie hul geliefdes daar op Voëlklip verloor het nie) ook nou hul eie onooglike betongrafte en grafstene daar op Voëlkliphoogte by die grond-parkeerterrein gaan oprig het. Dit lyk al soos 'n onversorgde munisipale bergraafplaas daar. Die George Munisipaliteit/Eden Streeksmunisipaliteit behoort eerder al hierdie permanente strukture wat die omgewing esteties besoedel permanent te verwyder. Slegs tydelike houtkruise of amptelik goedgekeurde publieke gedenkbankies van beton behoort daar toegelaat te word."

  • Intussen het voorlopige uitslae van die nadoodse ondersoek bevestig dat Heidi sowel as klein Hugo verdrink het. Die soektog na Cozette duur voort.

 

Voëlklip Nandi1

 Die omgewing by Voëlklip is ook 'n baie gewilde hengelplek. Foto: Nandi Goldschagg

Kyk hier na 'n skermgreep uit die video en lees meer:
http://www.mosselbayontheline.co.za/…/hoekom-het-heidi-en-k…

  Heidi Scheepers Heroldsbaai Nandi

Die skilderagtige kusdorpie Heroldsbaai waar die gesinstragedie hom afgespeel het. Foto: Nandi Goldschagg. 

 

 

Related Articles:

Comments  

+2 #1 Charmaine 2019-11-11 21:53
Dit is baie hartseer en my innige sampatie aan die familie. As buitestaander, maar iemand wat baie lief is vd natuur. Wil ek net noem dat, men's moet ook considered wees. Miskien vir almal wat ook graag die pragtige beeld wil aanskou, en nie nog lewens wil verloor nie. Dit is beter as om die roete te wil toe maak. Ongelukkig is n lewe meer werd as n pragtige uitkyk.
Quote