Delfinos.Passion for food-Passion for life Wolwedans Game Farm Property Pointer Top Up Service Station Oyster World Skorpios Security Beach House Restaurant Reflexions Professional Hair Ponto Grille and Carvery

 

MosselbayonTheline | First With The News

Mosselbaai se nuwe toerismehoof, Aneli Gerber, is nog net sowat drie maande in haar nuwe pos, maar haar hart is lankal tuis in die mooie Mosselbaai met sy gasvrye mense wat haar onmiddellik met ope arms verwelkom het.

“Die mense hier het ‘n spontane warmte en gasvryheid, wat jy nie sommer op ‘n ander plek kry nie.”

 Aneli in haar kantoor by die Mosselbaai Toerisme-buro waar dit dol, maar lekker gaan.

Aneli gerber2 768x576 2

Sy behoort te weet: sy het immers die wêreld vol gereis en gewerk – van Pretoria en Namibië tot die piepklein Isle of Man tussen Ierland en Engeland, toe die Skotse Ooskus en daarna vier jaar in die “bos” in Botswana en die Kalahari onderskeidelik voordat sy op Knysna haar trouman ontmoet en later Kaap toe getrek het. Elkeen van dié plekke het ‘n spesiale plekkie in haar hart en het haar nuwe ervarings geleer en geleenthede gebied.

En nou is sy in Mosselbaai – want dis waar sy en manlief Kobus wìl wees om hul twee spruite Janke (5) en Anja-Mari (18 maande) groot te maak. “Dit is ‘n lewenstyl-keuse wat ons gemaak het. Mosselbaai het die volmaakte “mix” van alles – ongelooflike natuurskoon, gesinsvaste inwoners met warm harte, veilige omgewing, ryk kulturele en historiese geskiedenis en ‘n magdom toeriste-aantreklikhede. Dis soos ‘n geskenkpakkie wat ‘n mens lagie vir lagie moet afskil om al die uniekhede te ontdek en te beleef.”

En sy is opgewonde om dié stukkie Suid-Kaapse paradys met al sy fasette aan die wye wêreld bekend te stel as ‘n alomvattende toerisme-bestemming wat alle generasies, kulture en markte insluit.

Skrik nie vir uitdagings:

Toe Aneli middel Januarie vanjaar hier aanland, is sy dadelik aan die diep kant ingegooi met die eerste gesamentlike Dias & Hawefees wat van 1 tot 4 Februarie ‘n rekordgetal besoekers van tussen 50 000 en 60 000 mense vanuit alle uithoeke van die wêreld gelok het – een van die grootste feeste wat nóg in Mosselbaai gehou is. (Hier is sy tydens die fees op Santos-strand saam met Marika Thomatos van Munro Manor en onder-voorsitter van Mosselbaai Toerismeburo.)

Dias Maryka 3Dit het haar allermins afgeskrik. Inteendeel. Sy het as enkelvrou en aflos-kampbestuurder op afgeleë spog-oorde in Botswana tussen die wilde diere geleer om kreatief te wees, te improviseer en op haar voete te dink. As geleentheidskoördineerder wat al die funksies by die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad moes beplan en reël, moes sy al tot 4 000 mense op ‘n slag oor twee aande hanteer.

“Ek is self baie lief vir reis en dus is dit lekker om ander mense se reise lekker te maak.”

As gebore Transvaler en oudste van drie kinders, wou Aneli ná matriek in 1996 sommer by ‘n hotelskool inskryf. Haar pa het egter aangedring dat sy minstens ‘n universiteitsgraad verwerf.

“Die liefde vir reis en my belangstelling in die hotelwese kom seker maar van ons kleintydse langnaweke en vakansies op verskillende plekke in die land. My ouers was baie lief daarvoor om die land te deurkruis en het ons langnaweke en skoolvakansies altyd na verskillende interessante plekke geneem – van die wildtuin en Durban se strande tot die weskus.”

Reisgogga byt

Ná sy haar BCom-graad in Toerismebestuur in 1999 aan Tuks verwerf het, het die swak salarisse en werkskaarste in dié bedryf, asook ‘n goeie skeut jeugdige avontuur- en reislus, haar na die Isle of Man en daarna na die Skotse Ooskus gelok waar sy goeie praktiese ervaring by verskillende hotelle opgedoen en tussenin al haar geld “uitgereis” het.

“Ek het ‘n jaar lank baie lekker gewerk en goeie geld verdien in die Isle of Man, maar toe hulle my nie oor Kersfees wou afgee om huis toe te kom nie, het ek sommer bedank en teruggekom – tipies voortvarende jongmens!”

Daarna het sy by ‘n hotel aan die Skotse ooskus gewerk en feitlik haar hele inkomste op reise na Ierland, Wallis en omliggende gebiede bestee. “Skotland is koud, maar die sneeubedekte landskappe is asemrowend mooi . . . en die mense is wonderlik.”

Een van haar ervaringe was ‘n besoek aan die beroemde Loch Ness-varswatermeer in die Skotse hooglande.

aneli foto1 768x1120 4

Van ysige Skotland na bloedige Afrika-bos

Ná twee jaar se ongelooflike ervaringe in die buiteland, het ‘n avontuurlike bosbelewenis soos min in Botswana gevolg as aflos-bestuurder by drie verskillende vyfster-safarihotelle in die boendoes.

Sy moes as SA enkelvrou ‘n maand lank by elkeen van die drie safari-kampe die leisels oorneem terwyl die oordbestuurder-egpaar met verlof was. Dis hìér waar sy leer flink- en vooruitdink het in primitiewe omstandighede, want voorraad-bestellings moes tien dae vooruit geplaas word om later son-pap en verlep via padvervoer uit Johannesburg te kom . . . en as die bobbejane boonop duur Kersversierings van volstruisvere en kandelare beetkry, is dit nag.

“Dit was ‘n groot aanpassing in snikhete temperature tussen ‘n klomp vreemdelinge in ‘n vreemde land, maar ‘n wonderlike en verrykende ervaring. Ek kan tot vandag toe myself help in krisissituasies soos wanneer my kar in sand vassit of ‘n band omgeruil moet word . . . maar dit was ook baie eensaam.”

Aneli op ‘n mokoro by Eagle Island in Botswana se Okavango-delta. Dis ‘n tradisionele vervoermiddel in die delta wat Aneli in haar af-tye leer bemeester het.

Aneli foto 5

Ver in die Ou Kalahari

Ná ‘n jaar in Botswana is sy genader om ‘n ultra-luukse oord in die Kalahari te bestuur . . . en kon sy drie jaar lank ook die Kalahari se besonge “sonbesies, kameeldoringbome en rooi Afrikanerbeeste tot bo teen die Malopo” intiem leer ken. “Dit was ‘n totaal ander belewenis in ‘n weelderige oord. Die Kalahari het ‘n unieke bekoring en praat met die siel . . . ‘n groot deel van my hart lê nog daar.”

Knysna en die Suid-Kaap wink

Ná vier jaar vrou-alleen in die Afrika-bos, het Aneli besluit dis tyd om na die beskawing terug te keer. Geleenthede in Knysna het gewag en dis hier waar sy ook die Suid-Kaapse bekoring en seelewe leer ken en liefkry het – en haar trouman ontmoet het!

Sy het mettertyd bevriend geraak met wyle Craig Nancarraw, die hoofuitvoerende beampte van die Knysna Toerismeburo en hom laat weet sy wil vir hom werk – aanvanklik as lidmaatskap-koördineerder. Tipiese raakvatter wat sy is, het Aneli gou die omgewing en sy mense leer ken en dit was nie lank nie voordat sy ook bemarking en “road shows” en oorsese handelskoue (trade shows) begin hanteer het. Sy het vinnig vriende gemaak in die SA en Suid-Kaapse toerisme-wêreld en het die unieke skoonheid van die Tuinroete omarm en wêreldwyd bemark.

Trouklokkies en nuwe horisonne:

In 2007 is sy en haar Bolander-man, Kobus, getroud. Ná sewe jaar by Knysna Toerismeburo wou die egpaar nogmaals hul horisonne verbreed en is toe Kaap toe waar Kobus steeds in die motorbedryf gewerk het en Aneli haar kreatiwiteit as geleentheidskoördineerder by die Twee Oseane-akwarium kon uitleef. Die koms van hul kleingoed het hulle egter al hoe meer laat verlang na die gasvrye kusdorpbestaan wat hulle albei in die Suid-Kaap leer ken het.

Anneli en Kobus met hul twee kleingoed, Janke (5) en Anja-Mari (18 maande).

aneli foto gesin1 6

Mosselbaai se Toerisme-hoof

Aneli het verlede jaar haar honneursgraad in Toerismebestuur deur Unisa behaal en aansoek gedoen vir die pos as Mosselbaai se nuwe Toerisme-hoof. Sy het dit gekry en nou is die Gerbers terug in hul geliefde Suid-Kaap waar Anneli nie kan wag om die Dorp van die Jaar as ‘n top-toerismebestemming te help vestig nie.

Mosselbaai het die ideale toerisme-pakket – dit moet net ontgin word

“Ek voel die gewig van die vertroue wat in my gestel word, maar ek sien ook uit na die uitdagings. My grootste uitdaging gaan wees om almal uit die verskillende sektore aan boord te kry – mense se vertroue te wen sodat almal inkoop in ‘n gemeenskaplike plan en doelwit, want daar is meer krag in samehorigheid as in gefragmenteerde pogings.

“Die Dias & Hawefees het Mosselbaai se potensiaal as toeriste-mekka bewys en ek werk graag saam met die feeskoördineerders om soortgelyke feeste aan te bied en te help groei. Ek dink Mosselbaai se toerismebedryf is nog in sy ontkiemingsfase – daar lê ‘n groot en wonderlike toekoms voor. Die mense se hart sit op die regte plek en Mosselbaai het ‘n ongelooflike skatkis van toerisme-aantreklikhede wat nog ontgin moet word om voorsiening te maak vir alle sektore van die bedryf.”

Related Articles:

Comments  

0 #2 Jakes 2021-06-09 07:00
What have you done to our once quite little town now overcrowded with outsiders....??? Thanks to people like you , our town wil NEVER be the same.
Quote
-1 #1 Jeanette 2021-03-23 19:24
Hi there everyone, it's my first ppay a quick visit at this site, and article is in fact fruitful in support of me, keep up
postig these posts.

Visit my blog post ... Barrows
OSRS Guide: https://probemas.medium.com/osrs-barrows-guide-for-beginners-dcf0fd995d35
Quote