Oyster World Skorpios Security Reflexions Professional Hair Delfinos.Passion for food-Passion for life Ponto Grille and Carvery Top Up Service Station Beach House Restaurant Wolwedans Game Farm Property Pointer

 

MosselbayonTheline | First With The News

Regter Mark Sher het Maandag 'n duidelike boodskap aan opportunistiese rowers en moordenaars uitgestuur toe hy die baasbrein agter die gru-moorde op die Human-egpaar van Groot-Brakrivier tot altesame 86 jaar tronkstraf gevonnis het.

Sher het Stephen Lekoro (29) twee lewenslange vonnisse opgelê vir die koelbloedige moorde op Tewie (72) en Eurika (62) Human en 18 jaar tronkstraf op albei klagte van roof met verswarende omstandighede. Lekoro sal minstens 25 jaar agter tralies moet deurbring voordat hy vir parool in aanmerking mag kom.

Stephen Lekoro

Die beskuldigde het deurgaans uitdrukkingloos met geboë hoof na die hofverrigtinge geluister. 

Sher het tydens vonnisoplegging in die rondgaande hoërhof in Mosselbaai die wreedaardige brutaliteit en koelbloedige beplanning van die moorde beklemtoon en gesê die uitermatige geweld waarmee die egpaar doodgekap en -gesteek is, is buite verhouding met die waarde van die besittings wat gesteel is.

Die Humans is vroeg op die oggend van 14 Junie 2016 by hul huis in Sandhoogtepad, Groot-Brakrivier, deur Lekoro en sy medepligtige Thamsanqa Sishuba (27) oorrompel en vermoor. Tewie is met 'n panga en handgemaakte mes in die motorhuis doodgekap en gesteek, waarna Eurika in die bed oorval en gedwing is om 'n internetbetaling te doen voordat sy met dieselfde mes doodgesteek is.

Lekoro het die Humans goed geken en het detyds al 'n paar jaar by hul riool-onderneming op Groot-Brakrivier gewerk. 

Sher het Lekoro as 'n gewetenlose en manipulerende opportunis beskryf wat die aanval koelbloedig en met 'n mate van gesofistikeerdheid tot in die fynste besonderhede beplan het. Hy het nie geskroom om sy makker (Sishuba) te betrek en te inkrimineer om die spit af te byt nie, en het ook geen berou getoon nie.

Sishuba dien reeds twee lewenslange vonnisse uit vir sy aandeel in die aanval nadat hy kort daarna in Lekoro se huis in Wolwedans aangekeer is. Lekoro het ná die moorde eers na Bloemfontein en daarvandaan na Lesotho gevlug en is eers verlede jaar aangekeer toe hy oor die grens na Bloemfontein teruggekeer het.

Sher het die staatsaanklaer, adv. Lenro Badenhorst, geloof vir sy onvermoeide pogings om deurslaggewende tegnologiese bewyse op te spoor danksy verdoemende inligting en beeldmateriaal wat op die Humans se gesteelde selfone en skootrekenaars gestoor was.

Lekoro se regsverteenwoordiger, adv. Dawie Scholtz, het Lekoro se verskoning aan die naasbestaandes aan die hof oorgedra. Dit is egter deur Sher verwerp as waardeloos omdat Lekoro deurgaans geen berou getoon het nie en enduit met sy leuens volgehou het om Sishuba te inkrimineer. 

Sher het verwys na die emosionele impak en lewenslange uitwerking wat die gru-moorde op die Humans se kinders en hul gesinne het. Hoewel hul twee dogters, Amor Pietersen en Tineka Vos en hul gesinne nie Maandag die vonnisoplegging bygewoon het nie, is hul beëdigde verklarings as strafverswaring ingedien. Albei dogters sukkel met angs en depressie, terwyl selfs die kleinkinders nou bang is vir vreemdelinge en sukkel om te fokus.

Amor se man, ds. Gerhard Pietersen, het ook erge trauma beleef deurdat hy die moordtoneel moes help opruim. 

Sher het gesê die sinnelose aanvalle op weerloses het ʼn algemene  verskynsel geword en hy hoop die swaar vonnisse stuur 'n duidelike boodskap uit aan diegene daarbuite wag dalk wag om toe te slaan.

Lees ook:  

Só het ons op 24 Augustus 2019 oor die uitspraak berig:

Naasbestaandes en vriende van die vermoorde Human-egpaar van Groot-Brakrivier moes gister hartverskeurende getuienis aanhoor van hoe 'n erg beseerde en bebloede Eurika Human (62) vergeefs om haar lewe gepleit het terwyl sy in die huis rondgesleep en gedwing is om 'n internetbetaling van R14 000 na 'n FNB-bankrekening in Lesotho te doen. Haar man, Tewie (72) is onder valse voorwendsels na die motorhuis gelok waar hy wreed van agter met 'n “skrikwekkende, handgemaakte mes” en panga aangeval is, waarna 'n trok aangeskakel is om sy hulp- en noodkrete in die motorhuis te verdoof.

Hof Tewie en Eurika Human

Regter Mark Sher het vandag in sy uitspraak in dié grusame dubbele moordsaak in die rondgaande hoërhof in Mosselbaai geen doekies omgedraai toe hy Stephen Lekoro (29) as 'n onderduimse en manipulerende leuenaar beskryf het wat nie net die roof en koelbloedige moorde op die Human-egpaar haarfyn vooruit beplan en metodies uitgevoer het nie, maar ook sy maat en medepligtige Thamsanqa Sishuba (27) geïnkrimineer het om die spit af te byt.

 

hof6

Sher het Lekoro skuldig bevind op al vier aanklagte – 2 van moord en twee van roof met verswarende omstandighede. Vonnisoplegging is tot eerskomende Maandag uitgestel.

Die Humans se een dogter en skoonseun, Amor en ds. Gerhard Pietersen van Plumstead in Kaapstad, asook een van hul minderjarige kleinkinders, het vandag stil in die hof die grusame getuienis aangehoor van hoe koudbloedig en brutaal die wreedaardige aanval op hul geliefde ouers en grootouers beplan en uitgevoer is. Sher het in ‘n stadium tydens die mees grusame getuienis die hof vir 5 minute verdaag om die familie en vriende geleentheid te gee om hul emosies onder beheer te kry.

hof2

Vandag se uitspraak bring ‘n mate van afsluiting na meer as drie jaar sedert Tewie en Eurika Human die oggend van 14 Junie 2016 by hul huis in Sandhoogtepad, Groot-Brakrivier, vermoor is. Hul liggame is eers vier dae later met verskeie kap- en steekwonde in onderskeidelik die motorhuis en slaapkamer gekry nadat 'n vriendin, Dorothea Wilson, onraad vermoed en die bure se hulp ingeroep het.

Sishuba is kort ná die moorde in Lekoro se huis in Wolwedansdam aangekeer met albei die oorledenes se beursies in sy besit. Hul bankkaarte, ens. was steeds in die beursies en dit was glo deel van Lekoro se plan om Sishuba te inkrimineer. Sishuba moes glo Lekoro se huis oppas waar hy geweet het die polisie sal toeslaan, terwyl Lekoro ná die moorde eers na Bloemfontein en daarvandaan oor die grens na Lesotho gevlug het.

Sishuba is reeds gevonnis en dien twee lewenslange vonnisse uit vir sy aandeel in die moorde. Suid-Afrika het nie ‘n gevangene-uitruilooreenkoms met Lesotho nie en ironies genoeg is Lekoro juis verlede jaar aangekeer toe hy dit gewaag het om weer na Bloemfontein terug te keer.

Thamsanga Sishuba 27

Sishuba het die afgelope drie weke tydens Lekoro se verhoor vir die staat teen Lekoro getuig.

Lekoro het destyds by die Humans se rioolaanleg gewerk en was glo "baie lief vir mnr. Human". Hy was van die begin af die hoofverdagte en beskou as die baasbrein agter die moorde vanweë sy lang verwantskap met die Humans. Hy het egter deurgaans ontken dat hy die Humans vermoor het en het enduit die skuld op sy vriend en medepligtige, Sishuba, gepak.

Volgens Lekoro se getuienis het hy Sishuba die betrokke dag op mnr. Human se versoek saamgeneem omdat daar ekstra werk gedoen moes word. Toe hy egter verkeerde olie in 'n grassnyer gegooi het, het mnr. Human glo kwaad geword en hom met die vuis teen die kop geslaan, waarop hy 'n mes gegryp en mnr. Human "uit selfverdediging" gesteek het. Sishuba het mnr. Human toe glo verder met 'n panga aangeval en oor die kop gekap. Volgens Lekoro het hy glo weggehardloop omdat hy bang was en het hy niks verder met die moorde of roof te doen gehad nie.

Deurslaggewende forensiese bewyse en beeldmateriaal op selfone en die twee skootrekenaars wat van die Humans gesteel is, het egter Lekoro se doppie finaal beklink.

Die rekeninghouer van die FNB-rekening in Lesotha waarin mev. Human kort voor haar dood die R14 000 oorgeplaas het, behoort aan ene Tsokolo wie se nommer onder 'n ander naam op Lekoro se foon gevind is. Hy kon ook geen aanvaarbare rede gee vir die talle oproepe wat net ná die moorde na dié nommer gemaak is nie.

Verskeie foto’s waar Lekoro met ‘n Acer en ‘n Samsung skootrekenaar poseer, is vanaf ‘n Samsung-selfoon geneem en op die Acer afgelaai. Daar is ook ‘n groot verskeidenheid foto’s van vuurwapens - onder meer een waar minstens twaalf vuurwapens op ‘n rooi lap uitgestal word. 

hof maroela3


Foto’s van wit stene wat soos diamante lyk, is ook op die rekenaar gevind.

Die sameloop van gebeure wat regter Sher gister in sy uitspraak geskets het, is 'n gru-verhaal van gierigheid en brutale wreedheid wat die bloed laat stol. Sher het sommige van Lekoro se weergawes as belaglik, onwaarskynlik en blatante leuens beskryf. Hy het bevind hoewel die veroordeelde Sishuba se getuienis met groot omsigtigheid oorweeg moet word, is dit baie meer geloofwaardig en waarskynlik gegewe die feite en korreleer dit ook met forensiese bewyse en dele van Lekoro en ander getuies se weergawes.

Volgens Sishuba se weergawe het Lekoro die aanval beplan en was daar geen twyfel dat die Humans vermoor moes word om uitkenning uit te skakel nie. Hulle het donker-oggend vanaf die Wolwedans-nedersetting na die Humans se huis geloop en in die donker gewag om mnr. Human onder vals voorwendsels na die motorhuis te lok. Toe hy afbuk om na iets te kyk, is hy van agter met 'n "vreesaanjaende, selfgemaakte" mes gesteek en met 'n panga oor die kop gekap. Sishuba het erken dat hy mnr. Human soos afgespreek met die panga oor die kop gekap het, maar het gesê dat hy daarna weggehardloop het omdat hy nie langer betrokke wou wees nie.

hof mes

Volgens Sishuba het Lekoro later die dag erken dat hy klaargespeel het met mnr. Human ("finished him off") en hoe mev. Human hom later geld gegee en gesoebat het om haar nie dood te maak nie. Sy wou glo ook weet wat die geluide in die motorhuis veroorsaak, waarop hy gesê het mnr. Human gesels met mense.

Bloeddruppels vanaf die slaapkamer tot in die eetkamer en kombuis het 'n somber prentjie geskets van hoe mev. Human wakker gemaak en gewond is voordat sy na ander vertrekke gedwing is en uiteindelik R14 000 na 'n bankrekening van 'n vriend van Lekoro in Lesotho oorgeplaas het. Bloedmonsters is ook op die dagboek gevind waarin die egpaar se bankkodes geskryf is, asook op 'n leë Samsung-selfoonboksie in die hoek van die kamer. Sy is vier dae later met verskeie messteekwonde aan haar nek en kop op haar bed aangetref. Een van hul twee honde, 'n Yorkshire terrier, was saam met haar in die kamer toegemaak.

Daar was aanvanklik geen teken van mnr. Human nie en al die motorhuisdeure was gesluit om dit te laat lyk asof die Humans nie tuis is nie. Nadat die motorhuis se roldeur met 'n boutsnyer oopgemaak is, is sy bebloede liggaam met verskeie kap- en steekwonde aan die kop, nek en bors langs hul Toyota Tazz gekry. Die geweld van die kaphoue teen die kop het sy brein binnegedring. Die panga het in die hoek van die motorhuis gelê en 'n blou oorpak-baadjie wat deur DNS-veltoetse met Lekoro verbind is, is onder die motor gekry.

Regter Sher het die koelbloedigheid en brutale geweld waarmee die moorde gepleeg is, beklemtoon en gesê al die bewyse dui duidelik daarop dat Lekoro die moorde vooraf haarfyn beplan en metodies uitgevoer het uit gierigheid.

Nog foto's op ons Facebook-blad: 

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2472858479612071?

Related Articles:

Comments  

0 #1 amulneg 2021-01-08 23:50
Buy [censored]: http://mewkid.net/when-is-xuxlya2/ [censored] rus.qphh.mosselbayontheline.co.za.cxd.gd http://mewkid.net/when-is-xuxlya2/
Quote