Delfinos.Passion for food-Passion for life Oyster World Beach House Restaurant Property Pointer Ponto Grille and Carvery Wolwedans Game Farm Skorpios Security Top Up Service Station Reflexions Professional Hair

 

MosselbayonTheline | First With The News

Regter Mark Sher het Maandag 'n duidelike boodskap aan opportunistiese rowers en moordenaars uitgestuur toe hy die baasbrein agter die gru-moorde op die Human-egpaar van Groot-Brakrivier tot altesame 86 jaar tronkstraf gevonnis het.

Sher het Stephen Lekoro (29) twee lewenslange vonnisse opgelê vir die koelbloedige moorde op Tewie (72) en Eurika (62) Human en 18 jaar tronkstraf op albei klagte van roof met verswarende omstandighede. Lekoro sal minstens 25 jaar agter tralies moet deurbring voordat hy vir parool in aanmerking mag kom.

Stephen Lekoro

Die beskuldigde het deurgaans uitdrukkingloos met geboë hoof na die hofverrigtinge geluister. 

Sher het tydens vonnisoplegging in die rondgaande hoërhof in Mosselbaai die wreedaardige brutaliteit en koelbloedige beplanning van die moorde beklemtoon en gesê die uitermatige geweld waarmee die egpaar doodgekap en -gesteek is, is buite verhouding met die waarde van die besittings wat gesteel is.

Die Humans is vroeg op die oggend van 14 Junie 2016 by hul huis in Sandhoogtepad, Groot-Brakrivier, deur Lekoro en sy medepligtige Thamsanqa Sishuba (27) oorrompel en vermoor. Tewie is met 'n panga en handgemaakte mes in die motorhuis doodgekap en gesteek, waarna Eurika in die bed oorval en gedwing is om 'n internetbetaling te doen voordat sy met dieselfde mes doodgesteek is.

Lekoro het die Humans goed geken en het detyds al 'n paar jaar by hul riool-onderneming op Groot-Brakrivier gewerk. 

Sher het Lekoro as 'n gewetenlose en manipulerende opportunis beskryf wat die aanval koelbloedig en met 'n mate van gesofistikeerdheid tot in die fynste besonderhede beplan het. Hy het nie geskroom om sy makker (Sishuba) te betrek en te inkrimineer om die spit af te byt nie, en het ook geen berou getoon nie.

Sishuba dien reeds twee lewenslange vonnisse uit vir sy aandeel in die aanval nadat hy kort daarna in Lekoro se huis in Wolwedans aangekeer is. Lekoro het ná die moorde eers na Bloemfontein en daarvandaan na Lesotho gevlug en is eers verlede jaar aangekeer toe hy oor die grens na Bloemfontein teruggekeer het.

Sher het die staatsaanklaer, adv. Lenro Badenhorst, geloof vir sy onvermoeide pogings om deurslaggewende tegnologiese bewyse op te spoor danksy verdoemende inligting en beeldmateriaal wat op die Humans se gesteelde selfone en skootrekenaars gestoor was.

Lekoro se regsverteenwoordiger, adv. Dawie Scholtz, het Lekoro se verskoning aan die naasbestaandes aan die hof oorgedra. Dit is egter deur Sher verwerp as waardeloos omdat Lekoro deurgaans geen berou getoon het nie en enduit met sy leuens volgehou het om Sishuba te inkrimineer. 

Sher het verwys na die emosionele impak en lewenslange uitwerking wat die gru-moorde op die Humans se kinders en hul gesinne het. Hoewel hul twee dogters, Amor Pietersen en Tineka Vos en hul gesinne nie Maandag die vonnisoplegging bygewoon het nie, is hul beëdigde verklarings as strafverswaring ingedien. Albei dogters sukkel met angs en depressie, terwyl selfs die kleinkinders nou bang is vir vreemdelinge en sukkel om te fokus.

Amor se man, ds. Gerhard Pietersen, het ook erge trauma beleef deurdat hy die moordtoneel moes help opruim. 

Sher het gesê die sinnelose aanvalle op weerloses het ʼn algemene  verskynsel geword en hy hoop die swaar vonnisse stuur 'n duidelike boodskap uit aan diegene daarbuite wag dalk wag om toe te slaan.

Lees ook:  

Só het ons op 24 Augustus 2019 oor die uitspraak berig:

Naasbestaandes en vriende van die vermoorde Human-egpaar van Groot-Brakrivier moes gister hartverskeurende getuienis aanhoor van hoe 'n erg beseerde en bebloede Eurika Human (62) vergeefs om haar lewe gepleit het terwyl sy in die huis rondgesleep en gedwing is om 'n internetbetaling van R14 000 na 'n FNB-bankrekening in Lesotho te doen. Haar man, Tewie (72) is onder valse voorwendsels na die motorhuis gelok waar hy wreed van agter met 'n “skrikwekkende, handgemaakte mes” en panga aangeval is, waarna 'n trok aangeskakel is om sy hulp- en noodkrete in die motorhuis te verdoof.

Hof Tewie en Eurika Human

Regter Mark Sher het vandag in sy uitspraak in dié grusame dubbele moordsaak in die rondgaande hoërhof in Mosselbaai geen doekies omgedraai toe hy Stephen Lekoro (29) as 'n onderduimse en manipulerende leuenaar beskryf het wat nie net die roof en koelbloedige moorde op die Human-egpaar haarfyn vooruit beplan en metodies uitgevoer het nie, maar ook sy maat en medepligtige Thamsanqa Sishuba (27) geïnkrimineer het om die spit af te byt.

 

hof6

Sher het Lekoro skuldig bevind op al vier aanklagte – 2 van moord en twee van roof met verswarende omstandighede. Vonnisoplegging is tot eerskomende Maandag uitgestel.

Die Humans se een dogter en skoonseun, Amor en ds. Gerhard Pietersen van Plumstead in Kaapstad, asook een van hul minderjarige kleinkinders, het vandag stil in die hof die grusame getuienis aangehoor van hoe koudbloedig en brutaal die wreedaardige aanval op hul geliefde ouers en grootouers beplan en uitgevoer is. Sher het in ‘n stadium tydens die mees grusame getuienis die hof vir 5 minute verdaag om die familie en vriende geleentheid te gee om hul emosies onder beheer te kry.

hof2

Vandag se uitspraak bring ‘n mate van afsluiting na meer as drie jaar sedert Tewie en Eurika Human die oggend van 14 Junie 2016 by hul huis in Sandhoogtepad, Groot-Brakrivier, vermoor is. Hul liggame is eers vier dae later met verskeie kap- en steekwonde in onderskeidelik die motorhuis en slaapkamer gekry nadat 'n vriendin, Dorothea Wilson, onraad vermoed en die bure se hulp ingeroep het.

Sishuba is kort ná die moorde in Lekoro se huis in Wolwedansdam aangekeer met albei die oorledenes se beursies in sy besit. Hul bankkaarte, ens. was steeds in die beursies en dit was glo deel van Lekoro se plan om Sishuba te inkrimineer. Sishuba moes glo Lekoro se huis oppas waar hy geweet het die polisie sal toeslaan, terwyl Lekoro ná die moorde eers na Bloemfontein en daarvandaan oor die grens na Lesotho gevlug het.

Sishuba is reeds gevonnis en dien twee lewenslange vonnisse uit vir sy aandeel in die moorde. Suid-Afrika het nie ‘n gevangene-uitruilooreenkoms met Lesotho nie en ironies genoeg is Lekoro juis verlede jaar aangekeer toe hy dit gewaag het om weer na Bloemfontein terug te keer.

Thamsanga Sishuba 27

Sishuba het die afgelope drie weke tydens Lekoro se verhoor vir die staat teen Lekoro getuig.

Lekoro het destyds by die Humans se rioolaanleg gewerk en was glo "baie lief vir mnr. Human". Hy was van die begin af die hoofverdagte en beskou as die baasbrein agter die moorde vanweë sy lang verwantskap met die Humans. Hy het egter deurgaans ontken dat hy die Humans vermoor het en het enduit die skuld op sy vriend en medepligtige, Sishuba, gepak.

Volgens Lekoro se getuienis het hy Sishuba die betrokke dag op mnr. Human se versoek saamgeneem omdat daar ekstra werk gedoen moes word. Toe hy egter verkeerde olie in 'n grassnyer gegooi het, het mnr. Human glo kwaad geword en hom met die vuis teen die kop geslaan, waarop hy 'n mes gegryp en mnr. Human "uit selfverdediging" gesteek het. Sishuba het mnr. Human toe glo verder met 'n panga aangeval en oor die kop gekap. Volgens Lekoro het hy glo weggehardloop omdat hy bang was en het hy niks verder met die moorde of roof te doen gehad nie.

Deurslaggewende forensiese bewyse en beeldmateriaal op selfone en die twee skootrekenaars wat van die Humans gesteel is, het egter Lekoro se doppie finaal beklink.

Die rekeninghouer van die FNB-rekening in Lesotha waarin mev. Human kort voor haar dood die R14 000 oorgeplaas het, behoort aan ene Tsokolo wie se nommer onder 'n ander naam op Lekoro se foon gevind is. Hy kon ook geen aanvaarbare rede gee vir die talle oproepe wat net ná die moorde na dié nommer gemaak is nie.

Verskeie foto’s waar Lekoro met ‘n Acer en ‘n Samsung skootrekenaar poseer, is vanaf ‘n Samsung-selfoon geneem en op die Acer afgelaai. Daar is ook ‘n groot verskeidenheid foto’s van vuurwapens - onder meer een waar minstens twaalf vuurwapens op ‘n rooi lap uitgestal word. 

hof maroela3


Foto’s van wit stene wat soos diamante lyk, is ook op die rekenaar gevind.

Die sameloop van gebeure wat regter Sher gister in sy uitspraak geskets het, is 'n gru-verhaal van gierigheid en brutale wreedheid wat die bloed laat stol. Sher het sommige van Lekoro se weergawes as belaglik, onwaarskynlik en blatante leuens beskryf. Hy het bevind hoewel die veroordeelde Sishuba se getuienis met groot omsigtigheid oorweeg moet word, is dit baie meer geloofwaardig en waarskynlik gegewe die feite en korreleer dit ook met forensiese bewyse en dele van Lekoro en ander getuies se weergawes.

Volgens Sishuba se weergawe het Lekoro die aanval beplan en was daar geen twyfel dat die Humans vermoor moes word om uitkenning uit te skakel nie. Hulle het donker-oggend vanaf die Wolwedans-nedersetting na die Humans se huis geloop en in die donker gewag om mnr. Human onder vals voorwendsels na die motorhuis te lok. Toe hy afbuk om na iets te kyk, is hy van agter met 'n "vreesaanjaende, selfgemaakte" mes gesteek en met 'n panga oor die kop gekap. Sishuba het erken dat hy mnr. Human soos afgespreek met die panga oor die kop gekap het, maar het gesê dat hy daarna weggehardloop het omdat hy nie langer betrokke wou wees nie.

hof mes

Volgens Sishuba het Lekoro later die dag erken dat hy klaargespeel het met mnr. Human ("finished him off") en hoe mev. Human hom later geld gegee en gesoebat het om haar nie dood te maak nie. Sy wou glo ook weet wat die geluide in die motorhuis veroorsaak, waarop hy gesê het mnr. Human gesels met mense.

Bloeddruppels vanaf die slaapkamer tot in die eetkamer en kombuis het 'n somber prentjie geskets van hoe mev. Human wakker gemaak en gewond is voordat sy na ander vertrekke gedwing is en uiteindelik R14 000 na 'n bankrekening van 'n vriend van Lekoro in Lesotho oorgeplaas het. Bloedmonsters is ook op die dagboek gevind waarin die egpaar se bankkodes geskryf is, asook op 'n leë Samsung-selfoonboksie in die hoek van die kamer. Sy is vier dae later met verskeie messteekwonde aan haar nek en kop op haar bed aangetref. Een van hul twee honde, 'n Yorkshire terrier, was saam met haar in die kamer toegemaak.

Daar was aanvanklik geen teken van mnr. Human nie en al die motorhuisdeure was gesluit om dit te laat lyk asof die Humans nie tuis is nie. Nadat die motorhuis se roldeur met 'n boutsnyer oopgemaak is, is sy bebloede liggaam met verskeie kap- en steekwonde aan die kop, nek en bors langs hul Toyota Tazz gekry. Die geweld van die kaphoue teen die kop het sy brein binnegedring. Die panga het in die hoek van die motorhuis gelê en 'n blou oorpak-baadjie wat deur DNS-veltoetse met Lekoro verbind is, is onder die motor gekry.

Regter Sher het die koelbloedigheid en brutale geweld waarmee die moorde gepleeg is, beklemtoon en gesê al die bewyse dui duidelik daarop dat Lekoro die moorde vooraf haarfyn beplan en metodies uitgevoer het uit gierigheid.

Nog foto's op ons Facebook-blad: 

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2472858479612071?

Related Articles:
Die twee verdagtes wat binne 24 uur aangekeer is vir die opspraakwekkende inbraak en aanval op 'n geliefde inwoner van die Santos Haven-aftreeoord in Mosselbaai, was albei slegs 'n paar dae uit op parool toe hulle op Sondag 2 Desember 2018 in die vroeë oggendure by tannie Annelene Massyn (81) se huis ingebreek, haar wreed aangerand en beroof het.
Boonop het dit gister aan die lig gekom dat albei beskuldigdes ou gewoontemisdadigers in die groter Mosselbaai-omgewing is wat al onderskeidelik tronkstraf vir moord, besit van dwelms, huisbraak en diefstal uitgedien het.
Duwayne Moodien (21) en Shane Alexander (24) is verlede week danksy knap polisiewerk vinnig aangekeer by 'n huis in Asla Park waar van Massyn se gesteelde eiendom in hul besit gevind is. 

Dwyne MoedienShane Alexander 24 met wit hemp
Duwayne Moodien (21) - links en Shane Alexander (24) regs. Albei is in aanhouding op aanklag van huisROOF sonder die opsie van parool tot hul volgende verhoordatum op 28 Januarie 2019. 

Hulle het reeds op Donderdag 6 Desember 2018 - vier dae ná die voorval - in die Mosselbaaise landdroshof verskyn op aanklag van huisroof - 'n baie ernstiger klag as gewone huisbraak omdat huisroof ook geweld en aanranding insluit. 

 

Annelene Massyn

Annelene Massyn (81) nadat sy aangerand en beroof is in haar huis in Santos Haven

Die saak is toe uitgestel tot vandag, waar hulle ook voorgekom het op die verbreking van hul paroolvoorwaardes. Die saak is weer uitgestel tot 28 Januarie 2019 vir verdere ondersoek. Hulle bly in aanhouding sonder die opsie van parool.

Intussen blyk dit uit die beskuldigdes se misdaadrekords dat Shane Alexander (24) reeds op 15-jarige ouderdom tot nege jaar tronkstraf vir moord gevonnis is. Hy is in 2010 gevonnis en is ná 6 jaar op parool vrygelaat. Hy is sedertdien weer tronkstraf opgelê vir huisbraak en was tydens die inbraak by Santos Haven op parool.

Dwyne Modien (21) het eweneens 'n lang misdaadrekord van besit van dwelms, huisbraak en diefstal en was ook pas uit op parool toe hy en Alexander saamgespan het om die Santos Haven-aftreeoord te teiken. 

Die aanval op Massyn in die "veilige" Santos Haven-aftreeoord in Mosselbaai so kort voor die Kersseisoen, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur - veral omdat die oord omhein is en oor 24-uur sekuriteit beskik. 

Santos Haven

Die feit dat albei beskuldigdes 'n lang misdaadrekord het en telkens vrygelaat is op parool, plaas weer eens die soeklig op die gebreke in die regstelsel en oorbevolkte tronke. Die algemene vonnis vir ernstige misdrywe soos huisbraak is deesdae net drie maande tronkstraf, waarna die oortreders in 'n gemeenskap-korrektiewe stelsel geplaas word waar hulle gedrag en bewegings deur korrektiewe dienste-beamptes gemonitor moet word. Die oormag is egter hopeloos te groot, wat tot gevolg het dat misdadigers binne dae weer verkrag, inbreek of moor . . . 

Die twee beskuldigdes was glo skaars 'n week op parool vrygelaat vir 'n ander oortreding toe hulle op Santos Haven toegeslaan het.

Hulle het blykbaar toegang tot die oord gekry deur in 'n boom langs die heining te klim. Dié boom is intussen afgekap en algemene veiligheidsmaatreëls by die oord en individuele huise word nou opgeskerp.  

Die aanval verskerp ook kommer oor die "regte" van misdadigers en die gemak waarmee parool deesdae toegestaan word. Dit is uiters kommerwekkend hoeveel voorvalle van ernstige geweldsmisdaad juis gepleeg word deur misdadigers wat op parool vrygelaat is. Baie inwoners en SAPD-lede voel die regstelsel faal hulle deur die regte van misdadigers bo dié van onskuldige inwoners te plaas.

" 'n Mens word moedeloos en voel magteloos as jy dae en nagte om werk om gevaarlike misdadigers aan te keer - net om te sien hoe hulle 'n paar dae later laggende op parool uit die hof stap . . . en jy wéét voor jou heilige siel hulle gaan wéér 'n misdaad pleeg - gewoonlik 'n ernstiger een as waarvoor hulle aanvanklik aangekeer is", het 'n speurder vertroulik laat hoor. 

BEJAARDE VROU IN SANTOS HAVEN AANGERAND, BEROOF

Mosselbayontheline
December 3 at 4:16 PM

"Ek is so verbitter, my oudste en enigste suster van 81 is vanoggend aangerand in 'n aftree-oord in Santos Haven. 
"Twee het ingekom by 'n venster en haar wakker geslaan met die vuis, haar hande vasgebind en mond toegebind en 'n klomp goed gesteel.
"Dankie Here sy leef. Wat help so 'n veiligheidskompleks?"

Só het Theo Munro van Beaufort-Wes gister op sy FB-blad geskryf nadat sy enigste suster, Annelene Massyn, Sondagoggend kort ná 05:00 deur twee mans met balaklavas in haar huisie in die Santos Haven-aftreeoord in Mosselbaai aangeval en beroof is.

Familie, vriende en kennisse van oral oor het met woede, weersin en onsteltenis gereageer op die boodskap.

"Hoe kan mense so wreed teenoor 'n hulpelose oumens wees?" "Is 'n mens dan nêrens meer veilig nie?" , is van die vrae wat deurgaans gevra is.

Die rowers het blykbaar toegang tot Massyn se huis deur 'n oop sitkamervenster gekry terwyl sy geslaap het. Hulle was besig om die huis te deursoek vir kosbaarhede toe sy omstreeks 05:45 wakker skrik van die lawaai.

Die rowers het haar toe blykbaar wreed met die vuis in die gesig geslaan, haar hande vasgebind, haar mond toegebind en haar met 'n mes gedreig. Hulle het ook gedreig om haar te verkrag as sy sou skree.

Theo Munro

Die huis is blykbaar omgedolwe en nadat hulle die kluis ook oopgesluit het, het hulle met 'n klomp juweliersware en verskeie ander items op die vlug geslaan. Die bejaarde Massyn is gelukkig nie ernstig beseer nie en is weer tuis nadat sy by 'n plaaslike hospitaal behandel is. 
Haar dogter is glo van Kaapstad onderweg Mosselbaai toe om haar by te staan, het Theo laat weet.

Die Santos Haven-aftreeoord, wat reeds sedert 1985 bestaan, is een van die oudste en bekendste ouetehuise in Mosselbaai. Die oord is omhein en beskik oor 24-uur sekuriteit. Die slagoffer se woning het blykbaar nie oral diefwering nie.

Verskeie vingerafdrukke is op die toneel gekry en die Polisie hoop om die skuldiges vinnig aan te keer.

*Rassistiese kommentaar op Theo se Facebook-blad het ook heftige reaksie ontlok nadat 'n FB-trol geskryf het dit (die aanval) is niks, aangesien swart vroue elke dag aangerand en selfs vermoor word en dié vrou net met die vuis geslaan is. Die trol het later gesê dis reg as swartmense moor, solank hulle net witmense doodmaak, want hulle geniet dit nogal.

Related Articles:


Die opspraakwekkende robwelpie-videosaak van brutale dieremishandeling waarin ‘n robwelpie genadeloos en skynbaar vir die pret gemartel en mishandel is op ‘n visserboot in Velddrif aan die Weskus, is in ‘n gevorderde, maar sensitiewe stadium van ondersoek.


Die gru-video waarin duidelik gesien en gehoor kan word hoe twee jong mans lag, vloek en beurtelings die hulpelose welpie met ‘n skerp voorwerp op die snoet kap en teen die boot vasslaan en gooi, het landwyd opslae op sosiale mediaplatforms en in hoofstroomkoerante gemaak – veral weens die gevoellose wreedheid daarvan.

Die video is intussen van die internet verwyder hangende ‘n omvattende ondersoek waarby twee verskillende departemente benewens die Dierebeskermingsvereniging en die SAPD betrokke is.

robvideo

'n Skermgreep uit die gru-video wat in Junie landwyd media-opslae gemaak het. 

 

Mosselbayontheline het betroubaar by die ondersoek-beampte verneem dat die vertraging tot dusver grootliks te wyte is daaraan om die outentiteit van die video en beeldmateriaal wetenskaplik en bo alle twyfel in die hof te kan bewys. Daarvoor is ‘n gekwalifiseerde kenner met die regte kwalifikasies en ervaring in dié spesifieke veld nodig om as staatsgetuie op te tree.


Die ondersoek-beampte het weens die oorweldigende emosionele en sensasionele reaksie wat die video uitgelok het, versoek dat sy naam nie gepubliseer word nie. Hy het gesê die departemente van seevisserye, omgewingsake asook die dierebeskermingsvereniging is almal betrokke by die saak.

“In ‘n mate is dit ‘n toetssaak omdat só ‘n voorval van dieremishandeling wat deur ‘n video op sosiale media versprei en onder die betrokke owerhede se aandag gebring is, nog nie tevore in ‘n Suid-Afrikaanse hof voorgekom het nie. Daar is ook geweldig baie regstegniese aspekte betrokke om die klagstate te formuleer en ons wil ‘n waterdigte saak bou voordat ons hof toe gaan,” het hy gesê.

Die twee 19-jarige verdagtes in die saak woon albei in Velddrif en het onderneem om hul samewerking te gee en in die hof te verskyn sodra ‘n amptelike dagvaardiging uitgereik word. Hulle is nog nie amptelik aangekla nie hangende die voltooiing van die ondersoek en die videobewyse.

Hulle sal waarskynlik op verskeie klagte van die oortreding van die onderskeie departemente en DBV se wetgewing verskyn.

Voorbladfoto: Ter illustrasie

Só het mosselbayontheline vroeër oor die voorval berig: 

http://www.mosselbayontheline.co.za/index.php/news/misdaad-crime/117-skokvideo-van-jong-mans-wat-baba-rob-grusaam-martel-wat-gaan-aan-met-sa-jeug

Related Articles:
 
Dit was 'n naweek van uiterstes in Mosselbaai. Enersyds het die naweek se heerlike somerweer in die middel van die winter almal see toe gelok en andersyds is die dorp geruk deur die moord op 'n nuwe pastoor in Mosselbaai en gewelddadige protesoptredes wat gister tot die sluiting van die N2 en Louis Fourieweg gelei het.
 

Niemand is nog in hegtenis geneem vir die oënskynlik sinnelose skietdood van Past. Johan van Eeden (50) van die Pinkster Protestante Kerk (PPK) in Heiderand nie.

Johan van Eedenonluste8

Van Eeden is Saterdagoggend omtreeks 00:40 buite sy tydelike pastorie in De Bakke geskiet nadat hy na bewering, gewapen met sy .38-rewolwer, gaan ondersoek instel het nadat hy geluide buite sy huis gehoor het. 
Van Eeden en sy gesin het skaars drie weke gelede van Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo na Mosselbaai verhuis. 
Sy dood het die naweek skokgolwe in kerkkringe veroorsaak en huldeblyke het van regoor die land ingestroom.

Volgens 'n Polisiewoordvoerder is blykbaar net een skoot afgevuur en het Van Eeden sy 17-jarige seun, Duan, wakker gemaak en gesê hy is geskiet voor hy by die voordeur inmekaar gesak en gesterf het. Volgens beeldmateriaal is hy buite deur 'n man oorval wat vermoedelik met sy rewolwer gevlug het. 
Die Burger het gister pastoor Jannie Nel van Tsidakah-bedieninge, wat Van Eeden in die Mosselbaai-gemeente bygestaan het, aangehaal. Nel het bevestig dat Van Eeden en sy vrou, Vicky, en Duan drie weke gelede hierheen verhuis het en dat daar al die eerste aand by hul bussie ingebreek is. Daarna is daar glo weer 'n paar keer aan die bussie gepeuter.

johan van eeden3

Volgens Nel is hy Saterdagoggend omstreeks 01:00 dadelik na die Van Eedens se pastorie nadat Duan hom gebel en gesê het sy pa is geskiet. 

Hy sê gemeentelede is baie geskok oor wat gebeur het.

 “ ’n Mens verwag glad nie dat so iets sal gebeur nie, veral nie hier in Mosselbaai nie. Dis baie tragies.”

Duan het Saterdag op sy pa se Facebook-blad gevra dat mense vir die gesin bid.
Die polisie ondersoek ’n moordsaak. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en dis nie seker of Van Eeden met sy eie wapen geskiet is nie. Sy .38-rewolwer word vermis.
Die begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

* Intussen het die gewelddadige protesoptredes deur 'n handjievol betogers in die KwaNonqaba/Asla Park-omgewing gister wyd in die media gaan draai nadat die bekende liedjieskrywer Stef Kruger mense op sy FB-blad gewaarsku het om nie in Suid-Afrika te kom vakansie hou nie.

Stef Kruger

Kruger het egter kort daarna weer die FB-inskrywings verwyder en gesê hy het in 'n oomblik van woede opgetree nadat hy gisteroggend omstreeks 06:00 naby KwaNonqaba deur betogers met klippe bestook is. Hy is glo amper in die gesig getref en die voorruit van sy Mercedes-Benz C-klas is beskadig.

onluste

Gisteraand laat het die Mosselbaai Munisipaliteit by monde van die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren en munisipale bestuurder, adv. Thys Giliomee, laat weet dat die N2 weer noodgedwonge gesluit moes word weens die vigilante optrede van onrusstokers wat 'n lys griewe en eise aan die munisipaliteit oorhandig het. 

Inwoners en motoriste is gemaan om versigtig te wees tot die situasie ontont is. Die griewe gaan glo hoofsaaklik oor kragvoorsiening in sekere gebiede asook die beskikbaarstelling van grond vir behuising.

Die Polisie se eenheid vir openbare orde asook verskeie plaaslike polisiebeamptes is voltyds aan diens in die gebied en patrolleer ook die kerngebiede in veral Asla Park.

onluste11

'n Afvaardiging bestaande uit die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, asook die burgemeesterskomiteelede en senior munisipale bestuurslede sal vanoggend om 10:00 die protes-leiers ontmoet om hul griewe te bespreek.

Die situasie was gisteraand nog plofbaar en dit was onseker of die protesoptredes deur die nag voortgesit sou word.

onluste1

Ontstelde inwoners van die betrokke gebiede het hul afkeer en misnoeë oor die geweld en voortdurende vrees en bedreiging waaraan hulle deurgaans blootgestel word deur 'n handjievol belhamels, skerp veroordeel op sosiale media.

Daar word ook wyd bespiegel of die belhamels wat die geweld aanvuur wel inwoners van Mosselbaai is en of hulle van omliggende dorpe hierheen gebring word om dieselfde chaos te stook wat Hermanus verlede week lamgelê het.

Dié vigilante optredes volg kort op die hakke van pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet se eenparige besluit dat onlusstokers wat hoofweë na dorpe versper en inwoners dreig, skuldig is aan sabotasie en as sodanig deur wetstoepassers gestraf moet word. Hoe dan nou?

Luister ook na munisipale woordvoerder Colin Puren se stemboodskap hier:

https://cms.groupeditors.com/…/4fb2f68e-00bf-409f-824d-9143…

24 Julie 2018

'n Wapenstilstand in die mini-oorlog in Mosselbaai is laatmiddag uiteindelik bereik ná 'n marathon-onderhandelingsproses waartydens burgemeester Harry Levendal langer as drie uur lank samesprekings gevoer het met 'n afvaardiging van 17 lede van Asla Park.


onluste13
Op dié vergadering wat tot ná 18:00 geduur het, is ooreengekom dat alle verdere protesaksies in Asla Park gestaak sal word en 'n opvolg-vergadering is vir 7 Augustus geskeduleer. 'n Versoekskrif met 14 kwessies is vroeër deur die protesgangers aan die munisipaliteit oorhandig en dié kwessies is onder meer bespreek. Gerugte dat die protesaksies hoofsaaklik gemik is op diensleweringskwessies soos elektrisiteitsverskaffing aan sekere informele woongebiede en die beskikbaarstelling van grond vir bykomende behuising, is nie amptelik bevestig nie.

Die N2 sowel as Louis Fourieweg en die R328 was teen 19:00 weer oopgestel vir verkeer, hoewel verdere protesaksies in die Brandwag-omgewing nie uitgesluit kan word nie. Die gedeelte van Louis Fourieweg tussen die Danabaai-afrit en die Garden Route Casino word deurgaans gepatrolleer om die situasie te monitor.

onluste3


Die mooie Mosselbaai is sedert gister onder beleg gehou deur betogers en politieke opstokers wat plek-plek die omgewing in 'n oorlogsone probeer omskep het. Voertuie is sedert gister in veral die KwaNonqaba / Asla Park-omgewing met klippe bestook en die N2 sowel as Louis Fourieweg moes met tussenposes gesluit word vir verkeer weens hernieude klipgooiery en brandende voertuigbande en klippe wat die paaie versper het.

Baie werknemers in die gebied het weens intimidasie en vrees vandag van die werk af weggebly en 'n gespanne atmosfeer het deurgaans swaar in die lug gehang.

Die geweld het vanoggend ook na die Brandwag-omgewing uitgebrei en die R328 tussen Mosselbaai en Oudtshoorn moes ook vir verkeer gesluit word.

onluste8

onluste2

'n Sterk polisie-teenwoordigheid deur lede van die SAPD se openbare orde-eenheid en plaaslike polisielede is deurgaans gehandhaaf om te voorkom dat die geweld na die midde-dorp oorspoel.

Die plofbare situasie is uiteindelik vroeër vanaand ontlont danksy die langdurige en volgehoue samesprekings met verteenwoordigers van die onderskeie gemeenskappe. Raadsheer Harry Levendal en munisipale bestuurslede was sedert vanoggend om 08:00 reeds in gesprek met die Gesamentlike Taakmagspan waarna hy met verteenwoordigers van Asla Park sowel as Brandwag onderhandel het.

onluste4

Die media is deurentyd op hoogte gehou van verwikkelinge deur munispale woordvoerder Colin Puren en munisipale bestuurder adv. Thys Giliomee. Die inhoud van die versoekskrif en of daar wel toegewings gemaak of belowe is, is egter nie bekend gemaak nie.

Belastingbetalers vrees dat enige toegewings rakende gratis elektrisiteit, dienste of erwe uiteindelik uit hul sakke sal moet kom.

Sakelui en inwoners van die geteisterde gebiede raak ook nou keelvol vir dié wettelose gedrag van opstokers wat hul veiligheid, besighede en voortbestaan bedreig.

onluste5onluste6

"Hulle sal alles afbreek en verbrand en besef nie eens dat hulle self daaronder gaan ly as hulle klinieke en skole plunder en verwoes nie. Ons weet nie eens of hulle wel Mosselbaaiers is of kastige nuwe intrekkers wat hierheen gestuur is om politieke onrus voor volgende jaar se verkiesing te stook nie," het 'n ontstoke inwoner wat veiligheidshalwe anoniem wil bly, laat hoor.
"Ons kry ook swaar en het ook klagtes, maar deur af te brand en verwoesting te saai, vererger hulle net alles vir die ou inwoners wat ook 'n beter lewe wil hê. Dis niks anders as misdaad en politiekery dié nie", het 'n ander inwoner gesê.

Die meegaande foto's is deur die munisipaliteit verskaf en toon die volgorde van gebeure in beeld. Luister ook na die klankgreep:

https://cms.groupeditors.com/…/4604d2b5-1eab-4e1c-96e7-2285…

onluste7onluste10

 27 Julie 2018

Die afgelope week se gewelddadige protesoptogte en intimidasie deur vigilante groepe maak inwoners toenemend onrustig en kriewelrig oor hoekom daar nie sterker teen diegene opgetree word wat inwoners in hul huise gevange hou deur hoofroetes te versper en chaos en paniek saai deur klipgooiery en brandstigting nie. Wanneer is dit dan sabotasie en nie blote protesoptogte nie en hoekom word dié oortreders nie weens sabotasie aangekla nie?

* Beperkte kommunikasie vanaf die SAPD en munispale woordvoerders oor die situasie, die omvang van die skade en geweld en die besonderhede van die samesprekings wat met die skuldiges gevoer is, maak inwoners ook omgekrap en gee noodwendig aanleiding tot bespiegelinge en woede-aanvalle op sosiale media. Inwoners wil wéét wat die eise is wat gestel is en watter toegewings gemaak word, asook watter tugstappe teen die oortreders geneem word. Sonder deursigtigheid en oop kommunikasie, floreer waninligting, opstokery, bespiegelinge en bowenal vrees . . .

* Intussen is niemand nog aangekeer weens die skietdood van wyle pastoor Johan van Eeden (50) verlede Saterdagoggend by De Bakke of die aanval op 'n bejaarde vrou van Groot-Brakrivier verlede Maandag nie . . .
Past. Van Eeden word môre (Saterdag) in Mokopane (Potgietersrus), Limpopo, begrawe.

Johan van Eeden1

Die 75-jarige vrou van Voorbrug op Groot-Brakrivier is blykbaar Maandagaand laat deur twee inbrekers in haar bed oorval, wreed aangerand, gewurg en vasgebind. Sy kon eers Dinsdagmiddag daarin slaag om haarself los te woel en hulp te ontbied. 
Die aanvallers het glo toegang tot haar huis gekry deur 'n venster. 'n Selfoon en ander items is geroof. Sover bekend is sy steeds in 'n plaaslike hospitaal. 'n Saak van huisroof word ondersoek.

Meer foto's en inligting op ons FB-blaaie: 

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2204201979811057

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2201189196779002

Related Articles:

Mosselbayontheline het gister 'n uiters ontstellende video ontvang van twee jong Weskus-manne (19) wat 'n jong rob op 'n boot genadeloos martel en met 'n mes kap. Die persoon wat die video onder ons aandag gebring het, het hulp gesoek om vas te stel wie die betrokke seuns is en waar die voorval plaasgevind het sodat dit by die betrokke owerhede aangemeld kan word. 


Binne 'n halfuur nadat ons op sosiale media begin navraag doen het, is die betrokke twee seuns en die boot geïdentifiseer en is dit ook by die betrokke owerhede in Velddrif aangemeld. 

Albei jong mans woon blykbaar op Velddrif en is bekend in die vissersgemeenskap. Die een was na bewering reeds in die moeilikheid weens beweerde perlemoensmokkelary en onwettige galjoenvangste.

Die gru-video is deur een van die twee jong mans geneem terwyl hy die ander aanpor om die weerlose baba-rob met 'n mes in die gesig te kap, teen die bootreling vas te slaan en herhaaldelik genadeloos op die grond neer te gooi terwyl albei lag en aanmerkings in kru taal maak. Die skreeuende rob probeer vergeefs teen die bootreling uitklim om te ontsnap, maar word telkens teruggepluk, in die lug geswaai en teen die boot vasgeslaan. 

'n Skermgreep uit die ontstellende video waarop duidelik die moorddadige geweld gesien kan word waarmee die robwelpie  aan 'n uitgerekte en koelbloedige marteldood onderwerp is. Hoekom die marteling? 


robvideo

Weens die geweldige wreedheid en uiters kru taal het ons nie gister die video op mosselbayontheline geplubliseer nie, maar wel op ons susterblad weskusontheline omdat die voorval in die weskus plaasgevind het. 

Dit het egter sedertdien soos 'n veldbrand op sosiale medianetwerke versprei en veral die onmenslike wreedheid van die twee jongelinge het oorweldigende reaksie en kommentaar ontlok. Mense wil ook weet watter stappe teen die twee gedoen gaan word, indien enige, en of dit net onder die mat ingevee gaan word. 

Hoewel drank op die boot gesien kan word, is dit veral die wreedheid en gevoelloosheid van die twee jongmense se optrede wat almal hewig ontstel. Dit is nie bekend hoeveel drank betrokke is nie en of dwelms ook 'n rol in hul onmenslike optrede gespeel het nie. 'n Mens sou dalk nog 'n mate van frustrasie kon verstaan het as die babarob in hul visvangnet verstrengel geraak het of hul gepla het, maar daar is geen teken van hengelgerei of nette nie en hul moes die rob spesiaal uit die see haal om hom vir die pret so te martel . . . ?

Dit herinner 'n mens onwillekeurig aan Mahatma Gandhi se wyse woorde dat 'n nasie se grootsheid bepaal word deur hoe sy diere behandel word. 

The greatness of a nation can be judged by the way its animals are treated. - Mahatma Gandhi - 

Die kommentare op sosiale media het absolute skok, walging en woede weerspieël, maar ook ongemak en kommer oor wat met die jeug in die land aangaan. 
"As dit is wat hulle aan diere doen, kan hulle dit mos aan mense ook doen. Is dit soos moordenaars gekweek word?" is van die vrae wat gestel is. 

Die voorval kom te midde van ingrypende vrae landwyd oor die toename in geweldsmisdade en moord onder jongmense in Suid-Afrika. Daar was sedert die Henri Van Breda- en Stella-moordsake feitlik daagliks berigte in die media om te probeer vasstel wat die rede of motief agter die moorde is en wat jongmense daartoe dryf om hul eie geliefdes koelbloedig te vermoor. Is daar gevaarligte wat voor die tyd flikker en mense moet waarsku? 


Ons plaas die video met 'n groot waarskuwing aan sensitiewe kykers dat dit uiters brutale beeldmateriaal en kru taal bevat . . . maar ook in openbare belang, want sulke gedrag deur jongmense behoort nie in enige samelewing geduld te word nie en moes lankal die gevaarligte laat flikker het. 
* Mosselbayontheline is in besit van die name van die boot en betrokkenes, maar weerhou dit weens moontlike regstappe wat kan volg.

Só het ons susterblad weskusontheline gisteraand berig in 'n poging om die skuldiges op te spoor:

Wat gaan AAN in die land? Die uitgerekte moordverhore, skuldigbevindings en vonnisopleggings van Don Steenkamp, Oscar Pistorius en Henri van Breda het die land aan die gons gehad oor wat ryk, wit jongmense toenemend laat moor. Nou is die 19-jarige Xander Bylsma verhoorafwagtend vir die moord op twee skoolmeisies van Stella? 
Die land se moordsyfer is ewe skrikwekkend onder wit, bruin en swart - maar jongmense? Onderstaande video is uiters grafies en brutaal en NIE vir sensitiewe kykers bedoel nie, maar as 'n jong man so teenoor 'n weerlose dier kan optree, lyk moord nie so vergesog nie . . wat word van ons jongmense?

Dié skokkende video is vermoedelik iewers langs die Weskus (Velddrif) geneem en op sosiale media versprei in 'n poging om dit onder die owerhede se aandag te bring. Die naam van die boot, Sea Hawk, kan duidelik op die video gesien word. Enigeen wat die boot of die mense daarop herken, word versoek om dit asb. by die naaste owerhede aan te meld. 

https://web.facebook.

com/weskus123/posts/1975039159181782
 
eye-crossed-out
This video may show violent or graphic content.
https://scontent.fcpt5-1.fna.fbcdn.net/v/t15.0-10/30834454_2185658864782784_1848142311712620544_n.jpg?_nc_cat=0&_nc_eui2=AeEEiYM8SpHBGa_qF7plItm3HmiF5DSnO8Ujm6WKPXV6o_Cds6TOBW6yctsVHu84_VTPJg8BRKxqieviRY9sw0-RqFkAJps2oBSWKrLoY-MbxA&oh=36b6e6bec92c3f90b60bb69f571f8028&oe=5BB08F88");">
 
-2:11
 
 
 
 
 
9,248 Views
Related Articles: